Hou jou lyf dan aksieheld

Posted by admin - March 25, 2014 - Adventure, Quad Biking, Uncategorized - No Comments

In die Sabieriviervallei het Amanda de Lange gaan soek na avontuur. En sy het dit gekry.

Die Sabieriviervallei is bekend om sy natuurskoon; veral in die somer, wanneer alles groen is.

As jy daar kuier, wil jy dalk eerder die omgewing van nader bekyk as net op die gewone deurpaaie ry.

As jy lus is om jou besigtiging van dié pragtige gebied met ’n bietjie avontuur te meng, is jy op die regte plek – daar is ’n oorvloed ondernemings wat daarin spesialiseer.

Ons het by Induna Adventures op die R536 by Hazyview beland. Daar is genoeg goed om avontuurlustiges ’n week lank besig te hou. Dit is nou as jy nie omgee om op te dok nie.

Ná ’n gewik en weeg het ons besluit op drie aktiwiteite wat ons oor twee dae sou doen.

 

Rustig óf windgat

Heel eerste aan die beurt was kwadfietsry.

Dit is berg-omgewing, so jy moet weet jy gaan deur optes en aftes en om skerp draaie en deur modderplasse en oor klippe ry. Dit is nie ’n “sagte” rit nie.

As jy boonop nou nie juis die mees ervare kwadfietsryer in die hele Mpuma­langa is nie en jy probeer tussendeur ook nog kiekies neem, kan jy maar weet jou vriende kan hul regmaak vir ’n vermaaklike sessie saam met jou.

Ons gids het ons in ’n rustige tempo op die roete geneem. Jy ry deur lemoenboorde en neutboorde – die gebied is veral bekend om sy makadamianeute – en op paadjies van waar jy die ongelooflikste uitsig op die omgewing het.

Die roete is eintlik ideaal vir groentjies én ervare bestuurders. ’n Mens pas net jou spoed by jou vernuf aan.

My vriendin se vernuftige 16-jarige seun het byvoorbeeld heerlik windgat rondgerits voor die “tannie” wat so rustig aangekruie het.

 

Groen kokon

Ek het nie omgegee om die rit stadig aan te pak nie.

Nadat ek oor my aanvanklike angstigheid is om weer aan te pas by die gevoel van die kwadfiets (dit was my vierde rit in ’n tydperk van sowat ses jaar) het ek ontspan en die omgewing ingedrink.

Die boomtakke vou behoorlik soos arms bo-oor jou en laat jou voel of jy jou in ’n groen kokon bevind.

Ervare kwadfietsryers behoort nie verveeld te raak nie, want daar is opdraandes en afdraandes en draaie daar wat my maag nóú nog laat draai net om daaraan te dink.

My enigste klagte is dit was heeltemal te gou verby.

 

Vlieg deur die lug

Nadat ons weer vastigheid onder ons voete gehad het, is ons op ’n relatief gladde en gelyk stuk pad aangery na die platform vir die foefieslaaid.

Die Induna-foefieslaaid is 450 m lank en 77 m hoog en jy kan daar afvlieg teen ’n spoed van tot sowat 100 km/h (afhangende van jou gewig).

Dit is ’n heerlike, vinnige “vlug” van bo na onder. Jy kan skree as jy wil, maar eintlik is dit lekkerder om net te ontspan en die ervaring te geniet (tensy skreeu natuurlik vir jou deel van die pret is).

Daardie 450 m is soos blits verby en as jy enigsins net ’n enkele avontuurlike beentjie in jou lyf versteek het, sal jy wéér wil gaan. En wéér.

Die gidse is wonderlik behulpsaam met die wegspring bo en die afklim onder.

Ek het selfs my kamera by hulle gelaat sodat hulle vir my ’n foto kon neem en waarlik, terwyl ek daar afgly, sien ek hoe die gids my mik-mik met die kameralens volg.

 

Op ’n perd se rug

Ons derde avontuur was ’n heerlike perderit.

Weer was dit hoogs vermaaklik vir die meer ervare ruiters wanneer een van hul mederuiters soos ’n sak aartappels op die perd se rug wip omdat sy nie haar ritme kan kry nie.

Ons was geseënd met die allergeduldigste van gidse.

Hy het ons teen ’n gemaklike pas op die roete geneem. Langs waterstrome, deur boorde, af met kronkelpaadjies onder blaardakke deur . . . Daar was ook genoeg dele waar die pad lekker gemaklik was en jy die uitsig kon bewonder.

Dit was ’n effens bewolkte dag, wat alles net soveel mooier gemaak het.

Die perde is baie gedissiplineerd en volg instruksies goed (vir die oningewydes is daar darem ook ’n les voor die wegspring).

Hulle is ook vér van gevrek.

As jy ’n ervare ruiter is en jy is lus om op ’n stewige galop te gaan, sal die perde gehoor gee en jou hare in die wind laat wapper.

 

Om te galop of nie

As jy ’n meer bedeesde ruiter is (lees: jy het geen idee wat jy doen nie en klou om lewe en dood) sal hulle dáárby ook aanpas.

Ons het albei soorte ruiters in ons groep gehad, maar eersgenoemde is effens gekniehalter deur laasgenoemde se gebrek aan ervaring.

Dit is dalk ’n goeie idee om – indien enigsins moontlik – jou groep te verdeel sodat die ervare ruiters saam is. Daar bestaan nie so iets soos party is op ’n stewige galop en ander stap rustig voort nie.

Óf almal galop óf niemand galop nie.

 

Koste
  • Kwadfietsritte kos R410 per persoon vir een uur en R580 per persoon vir twee uur. Goedkoper ritte kos R140 per persoon vir een uur en R160 per persoon vir twee uur as jy as passasier saamry.
  • Die foefieslaaid kos R180 per gly.
  • Perderitte kos tussen R220 en R630 per persoon, af­hangende van wat jy bespreek. R220 is vir ’n uur ­lange rit. ’n Rit van twee uur kos R400 per persoon en ’n halwe dag kos R630 per persoon. Ponieritte is ook beskikbaar teen R100.
  • Besprekings is noodsaaklik.

No comments

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *

* Copy This Password *

* Type Or Paste Password Here *

Please wait...

INDUNA ADVENTURES - NEWSLETTER

Plan your holiday by receiving monthly specials, limited packages, news and discount offers.